02 May Wat u moet weet by huis VERKOOP
Indien u beplan om u huis te verkoop, moenie die geld verloor wat deur hierdie belegging verdien is deur nie te weet van die relevante regsaspekte nie.
Volg hierdie riglyne:
- Hou u huis en die perseel netjies en skoon sodat dit aantreklik is vir voornemende kopers.
- Wanneer u ‘n koper vind, moenie enige koopaanbod of koopkontrak onderteken voordat u prokureur die dokument nagegaan het nie. Alle bepalings en beloftes moet deel vorm van die geskrewe kontrak. Mondelinge ooreenkomste is nie afdwingbaar nie.
- Vind eers uit watter kommissie aan die eiendomsagent betaalbaar is en of BTW ingesluit is, voordat u teken.
- Die oordragprokureur sal die regsaspekte behartig en sorg dat die huis aan die koper oorgedra word. Hy sal ook die finansies reël en sorg dat u, u geld kry.
Die volgende is ‘n lys van die belangrikste vereistes wat nagekom moet word in ‘n koopkontrak. Hierdie lys is egter nie volledig nie aangesien elke transaksie sy eie individuele vereistes het. As u dit verkies kan u prokureur die koopkontrak opstel.
- Die name, identiteitsnommers en huwelikstaat (bv. getroud binne of buite gemeenskap van goedere) of kapasiteit (wanneer ‘n maatskappy betrokke is) van die betrokke partye, asook die verkoper en die koper se adresse.
- Die beskrywing en grootte van die eiendom of erf soos in die transportakte uiteengesit.
- Die verkoopprys en wyse van betaling.
- Die bepaling dat die koper alle oordragkostes betaal.
- Die naam van u prokureur wat die oordrag hanteer.
- Die datum van besitname en okkupasie.
- Die bepaling dat die koper verantwoordelik is vir alle belasting en ander munisipale heffings vanaf die dag van besitname.
- Die bepaling dat die huis “voetstoots” verkoop word (met ander woorde sonder enige waarborg aan u kant rakende sigbare of verborge gebreke).
- Die kommissie verskuldig en die naam van die eiendomsagent.
- As die datum van okkupasie voor die datum van oordrag is, verseker dat die koper rente op die verkoopsyfer of huur betaal tot die datum van oordrag. Die bedrag en wyse van betaling moet gestipuleer word.
- Die feit dat geen verandering van die koopkontrak geldig is as dit nie op skrif is en deur beide partye onderteken is nie.
- Enige spesiale voorwaardes, byvoorbeeld: – ‘n Lys van enige artikels wat by die verkoop uitgesluit word.
- Of die verkoop onderhewig is daaraan dat die koper ‘n verbandlening kry of dat die koper se huis verkoop word. U prokureur kan u adviseer met betrekking tot hierdie voorwaardes.
No Comments