02 May Wanneer is eiendomskommissie betaalbaar?
VRAAG: My huis is onlangs met die hulp van ‘n eiendomsagent verkoop. ‘n Kontrak is geteken en nou wag ons net dat die bank die verband goedkeur voordat die oordrag sal voortgaan. Wanneer moet ek die eiendomsagent se kommissie betaal?
ANTWOORD: Daar sal gewoonlik in die mandaat wat vooraf met die eiendomsagent aangegaan is, bepaal word wanneer, waar en hoe die agent sy kommissie sal ontvang en wie dit sal betaal.
As ‘n algemene reël is ‘n agent geregtig op die betaling van sy of haar kommissie so gou as sy of haar mandaat voltooi is. Daar is verskillende mandate, bv. ‘n oop- mandaat, ‘n alleenmandaat of ‘n dubbele mandaat. Indien die huis deur meer as een eiendomsagent bemark is, is die algemene reël dat kommissie verdien word deur die eiendomsagent wie se pogings, van watter aard ook al, die effektiewe oorsaak van verkoop van die eiendom was.
Selfs waar die verkoper en koper op ‘n latere stadium met mekaar onderhandel nadat hulle voorheen deur die eiendomsagent aan mekaar voorgestel is, sal die eiendomsagent steeds geregtig wees op kommissie as hy of sy kan bewys dat, omdat sy of hy hulle aan mekaar voorgestel het, die transaksie gevolglik beklink is.
‘n Eiendomsagent se kommissie is dus verdien as hy of sy die effektiewe oorsaak van die verkooptransaksie was, ‘n geldige en bindende kontrak tussen die koper en verkoper aangegaan is en daar aan alle opskortende voorwaardes in daardie kontrak voldoen is (behalwe as die partye anders in die kontrak ooreengekom het). Nie die Wet op Eiendomsagentskapaangeleenthede of die Raad vir Eiendomsaangeleenthede (daargestel in terme van hierdie wet) se gedragskode skryf ‘n vaste of spesifieke bedrag kommissie voor nie. ‘n Mens kan dus die kommissie met die eiendomsagent onderhandel, mits die kommissie bepaal of bepaalbaar is in die mandaat. Hoewel ‘n mandaat anders mag bepaal, word ‘n eiendomsagent se kommissie dan eers betaal as eienaarskap van die eiendom oorgedra is aan die koper. Die oordragprokureurs sal hierdie oorbetaling behartig namens die verkoper.
No Comments